Skryf Safari – Vrydagaand, Bordspeletjie tyd?

Ek sit hier plat op die mat en skryf vanaand. Die plaashuis waarin in ons bly het ‘n kaggel in ons slaapkamer en dis ‘n treffer nou dat die koue ons behoorlik beet het.

Terwyl die vuur hier oorkant knetter en sis, dink ek oor bordspeletjies. My gunsteling is Scrabble. Die probleem is, hier is niemand hier wat dit met my wil of kan speel nie. My man is dalk net bang ek wen hom, ek weet nie. Ek hou van woorde bou. Ek het ‘n klein, opvoubare scrabble stelletjie gekoop ‘n paar jaar terug wat kan saamgaan as ons kampeer. Ek en my man het al gespeel wanneer dit reën, buite ons tent, terwyl die reëndruppels op die gazebo se dak neerplons en die gastofie langs ons kookwater brou vir nog ‘n koppie koffie.

Ander bordspeletjies wat ons in ons huis het is Risk, ‘n bordspeletjie waar jy moet probeer om globale oorheersing te kry. Ons het al ‘n keer of wat met vriende wat kuier dit gespeel. Die probleem is net, dit vat lank en drie uur in die oggend is niemand meer lus om die wereld oor te neem nie, dalk net as jy 19 is.

‘n Ou gunsteling van kleintyd is Monopoly. Ek dink ons gesin het ‘n tipe liefde/haat verhouding met die speletjie opgebou. ‘n Mens het eers baklei oor wie met watter pion speel. Die kar was ‘n groot gunsteling, die hond tweede, maar niemand wou byvoorbeeld met die hoed speel nie. Ons het nooit, nie eenkeer wat ek kan onthou, ooit, die speletjie klaar gespeel nie. My sussie het altyd Elofstraat gekoop en my boetie het altyd gekroek. Iemand het soms baie ryk geword en die bank gekoop. En so het ons verder ons eie reëls opgemaak. In plaas daarvan om die geld in die bank te sit, het ons dit in die middel van die bord gesit en as jy die “kom gratis uit die tronk kaartjie” kry, dan wen jy ook al die geld in die middel. Lekker tye. Maar kort voor lank het iemand honger of moeg geraak, of ons moes ‘n takie gaan verrig en die speletjie is tydelik gevries en dan het ons gewoontlik nooit die speletjie klaar gemaak nie.

Soos ek hier sit, is ek bitter lus vir ‘n lekker bordspeletjie. Miskien met snacks om die tafel en ‘n glasie rooiwyn. Of dalk net warm sjokolade melk met marshmallows in.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=784470.

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).


20 thoughts on “Skryf Safari – Vrydagaand, Bordspeletjie tyd?

  1. Ek was al die jare so lief vir Scrabble… maar geen kind wou by my sit en saamspeel nie… ook nie my man nie. ‘n Paar jaar gelede ontdek en ‘n toeka se vriendin se dogter mekaar op Fb… en voila ons het ‘n liefde vir scrabble in gemeen. Net daar on-line begin ons speel. Ons het sommer agt borde op ‘n slag oop. Dit was ‘n salige tyd. Ongelukkig is sy deur ‘n egskeiding en het nog nie weer die stukke van haar lewe agtermekaar nie. Met my gebabbel kan jy seker hoor jy het ‘n gunsteling snaar aangeraak. 😊

    Liked by 1 person

    1. Dit klink so lekker. So kry mens aanlyn Scrabble? Ek dink nie dis ‘n opsie wat ek moet ondersoek nie. Ek ontwikkel dalk net ‘n verslawing. Hartseer om te hoor van jou vriendin se egskeiding en deurmekaar lewe 😦

      Liked by 1 person

  2. Aangesien jy ‘n kaggel in die slaapkamer het (ek gaan nou eerlik wees en nie probeer voorgee dat ek nie jaloers is oor daardie een nie 🙂 ) gaan ek nou maar poging aanwend om jou ook jaloers te maak n.a.v. ‘n opmerking wat ek ieweres gelees het het en ek haal aan “Soos ek hier sit, is ek bitter lus vir ‘n lekker bordspeletjie. Miskien met snacks om die tafel en ‘n glasie rooiwyn.”

    Wel Liza as ek hier opstaan gaan ek die rugby kyk saam met vriende en dan speletjies speel “met snacks on ddie tafel en ‘n glasie rooiwyn. Ja hier is ‘n eggo in die vertrek 🙂

    Liked by 1 person

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.