‘n Vroegoggend-Warmlugballonvaart oor die Blyde Rivier.

In die jaar 2011 het ek in die Vallei van die Olifants gewerk. Dis nou, net buite Hoedspruit, teen die oewer van die Blyde rivier en die hange van die Drakensberg, met ‘n mooi uitsig oor Mariepskop.

Binne my eerste paar weke daar het een oggend wakker geword van ‘n vreemde blaas geluid reg bo my dak. Ek het vir hierdie oomblik gewag, ‘n paar van ons gaste, by die gastehuis was al op warmlugballonvaarte aangebied deur Suncatchers Hot Air Ballooning en ek wou so graag sien hoe lyk die ballonne. Ek het my kamera gegryp en sommer net daar in my pajamas uitgehardloop. Die mooiste toneel het my begroet. Die spesifieke oggend was daar nie een nie, maar drie groot ballonne in die lug. Dit sou die begin wees van vele sulke begroetings en ook die begin van ‘n droom om self deur die lug te swewe. Hoekom het ek dit nie dadelik gedoen nie? Wel, kom ons wees nou maar eerlik, ‘n lugballonrit kos ‘n allemintige bedraggie.

 

 

In 2012 het ek en my man getrou en in die Vrystaat begin woon en werk, en in 2014 besluit om weer die laeveld te gaan besoek. Die Klaserie Privaat Natuur reservaat en die Kruger Wildtuin was op die beplande roete.

Ek het my kans gesien en my man ingelig dat hy saam met my op my bucketlist ingeskryf staan vir ‘n warmlugballonvaart. Elkeen betaal vir homself met spaargeld en ons vier my verjaarsdag. Gelukkig het hy ingestem en ons het die bespreking gemaak.

Lugballonvaartdatums is nooit definitief nie, die weer moet saam speel. Daarom betaal jy ook nie vooruit nie. Dis ook beter om ‘n dag of twee ekstra in jou vakansie beplanning oop te hê, sodat jy ‘n beter kans kan hê om te gaan indien jy slegte weer tref. Die aand voor die vlug word jy gebel en die vaart word bevestig.

Die oggend van my verjaarsdag was die weer fantasties. Ons moes redelik ver ry daardie oggend vanaf die Klaserie tot by die vertrekpunt van die ballon. Daar aangekom kry ons ‘n lekker koppie koffie en beskuit terwyl hulle die ballon in gereedheid bring en nogmaals weer en wind nagaan om seker te maak hulle mis nie iets nie. Ons is ook in vir ‘n heerlike verrassing. Normaalweg as jy ‘n romantiese rit vir net 2 mense boek, betaal jy ekstra, maar dit het so uitgewerk dat dit net ons 2 was wat daardie oggend bespreek het.

 

 

Na veiligheidsinstruksies deur die vlieënier, kan ons in die mandjie klim. ‘n Mens verkyk jou aan die grootte van die ballon en die feit dat jy in ‘n mandjie klim. Die blaasvlam raas wanneer ons stadig in die lug opstyg.

Daar is min woorde wat ek het om te beskryf hoe dit voel om stadig deur die helder, fris oggend luggie te sweef en die wêreld, die bome, die berge en die rivier wat jy so lief het, op so ‘n manier te bekyk. Soos wat ons opstyg begin die son se strale breek.

Sunrise
Sunrise over the Blyde River

Ons kon nie vir ‘n beter, helderder oggend gevra het nie. Die Drakensberg, daar in die Vallei van die Olifants, lyk elke oggend anders. Ek weet, want ek het vir meer as ‘n jaar, elke oggend eerste ding gaan kyk hoe lyk die berg. Party oggende is dit mistig, party oggende is die berg heeltemaal onsigbaar, party oggende hang daar ‘n effense rookwolk en op spesiale dae is dit skerp en helder en kan ‘n mens die hele berg mooi sien. Hierdie was een van daai spesiale oggende.

Sunrise lighting up the Drakensberg
Sunrise, lighting up the Drakensberg in the Valley of the Olifants.

Ek en my man het voor die vaart gewonder of ‘n mens ‘n verkyker moet saamvat. Ons was nie seker nie, en het dit toe maar gelos. Ons was nogal spyt want ons het ‘n entjie af in die rivier seekoeie gekry en ook later in die plantasies iets wat dalk ‘n rooikat kon wees.

Spot the Hippo
Spot the Hippos in the Blyde River.

Die vlieënier kan nie die ballon van rigting laat verander nie, want die wind is verantwoordelik vir die rigting waarin die ballon gaan. Hy kan wel die hoogtes verander.  (Dit is belangrik om dit te onthou wanneer jy ‘n lugballonvaart plek kies in Suid Afrika, gaan kyk op google maps wat is rondom die omgewing waar jy boek en besluit of jy daarvan gaan hou as die wind jou daaroor waai… Ek gaan dit daar laat.) Dit het vir my gevoel asof ons vlieënier die ballon baie behendig bestuur het. Hy het my baie gerus laat voel en ‘n mens kon sien hy het baie ure se ervaring agter die rug.

‘n Groot deel van die vaart het ons stadig net bo die boomtoppe oor en weer die Blyde rivier beweeg. As ek daaraan dink, hou ek steeds kortliks op met asemhaal. Die fotos doen die majestieuse laeveldse bome, die kleur van lug en die rivier en algemene gevoel van die rit geen reg nie.

Balloon ride
The Blyde River, the mountain and the beautiful landscape.

 

 

This slideshow requires JavaScript.

Die rit het geëindig verby die plantasies en ons het geland in ‘n oop veld. Die landing was baie rustig, maar kan blykbaar soms rof wees. Die rit was ongeveer ‘n uur lank.

‘n Voertuig het ons en die ballon kom haal in die veld, maar eers het ons die rit met vonkelwyn en snacks gevier. Ons word daarna afgelaai by ‘n hout-hangbrug, waaroor ons stap tot by Otters Den. Ons het ‘n heerlike ontbyt geniet daar, op ‘n houtdek op die oewer van die Blyde. ‘n Perfekte manier om nabetragting te doen van jou rit.  (Otters Den word bestuur deur dieselfde eienaars as Suncatchers, maar die Otters Den gastehuis is permanent gesluit vir oornag verblyf.)

Dit was vinnig verby, maar ek koester die ervaring en herinneringe verewig.

Otters den
Me and my husband on the suspension bridge to Otters Den.

10 thoughts on “‘n Vroegoggend-Warmlugballonvaart oor die Blyde Rivier.

  1. Romanties hoor! Alhoewel ek nie dink ek sal daarvan hou om in die lugballon te wees nie. Ek dink ek sal op die grond wil piekniek hou en kyk vir die lugballone

    Liked by 2 people

  2. Hi Liza, ek blog oor die Laeveld en die res van Mpumalanga by Papierazzi. Ek was nog nie so gelukkig om op ‘n lugballon vaart self te gaan nie, maar het ‘n “photoshoot” vir die MTPA van Suncatchers gedoen in 2015.
    Net om ‘n bystaander te wees was ń ongelooflike ervaring.

    Ek sal graag jou ervaring met my lesers wil deel, sal jy omgee as ek dit op my blog “share”?

    Liked by 1 person

  3. Dit klink en lyk heerlik. My blootstelling aan lugbalonne is paar fotos wat ek van een in Oudtshoorn geneem het. Jy maak my nou lus, maar met my dogter wat volgende jaar universiteit toe gaan…

    Liked by 1 person

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.