Country People – Ontmoet Madelé Burger, Bredasdorp, Overberg, Suid Afrika

It is my first Country People Interview of the year 2019. This year I am planning to include an Afrikaans Interview every once in a while. In both English and Afrikaans interviews I would love to share more about the small towns where people live, where do the town names come from and what makes these places so nice to live in.

Dit is my eerste onderhoud vir die jaar 2019. Die jaar wil ek graag elke dan-en-wan ‘n Afrikaanse onderhoud met julle deel. Ek wil ook graag hier en daar meer deel oor die klein dorpies waar mense bly, soos waar kom die dorpe se name vandaan en wat maak die plekke lekker om te bly.

Bredasdorp se naam is afgelei van die eerste burgemeester van Kaapstad, Michiel van Breda. Hy was ook bekend as die vader van die Merino Skaap industrie in Suid Afrika. Hy en Pieter Voltelyn van der Byl kon besluit waar om ‘n kerk op te rig nie en toe word daar sommer 2 kerke opgerig en 2 dorpe gestig, Bredasdorp en Napier. Bredasdorp is veral bekend vir sy Skeepwrak Museum, waar die stories vertel word van 150 skeepswrakke langs die Agulhas rif. (Wikipedia)

Ontmoet Madelé Burger, ‘n Overberger, semi-boervrou, semi-dorpenaar, ywerige blogger, skrywer van Bantingboeke. Iemand met baie belangstellings. 

Madelé, of Toortsie soos ek haar ken, is ‘n mede blogger. Ek kan nie onthou of ek op haar profiel afgekom het of sy op myne nie, maar die Afrikaanse bloggers vind mekaar en ondersteun mekaar en so eindig ‘n mens maklik op mekaar se blogs en word deel van ‘n aanlyn familie.

Toortsie is lief vir reis!

Waar woon julle? Ons woon in Bredasdorp, maar spandeer net so baie tyd op ons plaas by Riversdal in die Suid-Kaap. Ek help met die administratiewe werk van ons boerdery. 


Vertel ons ‘n stukkie van jou lewensverhaal? Ek is ‘n gebore en getoë Overberger en het die geootste deel van my lewe op plase in die Bredasdorpdistrik gebly. Ek het op ‘n plaas in die Overberg grootgeword, was eers in ‘n plaasskool en toe ek 10 jaar oud is, na die dorpskool. Na matriek is ek na die Universiteit van Stellenbosch waar ek B Comm en HOD gestudeer het. Ek het oor die jare my belangstellings gevoed en verskeie kursusse gedoen, onder andere in naaldwerk, musiek,  Bybelkunde en berading. Ek het vir baie jare geglo dat ek nie kan skryf nie. Ek was altyd baie meer syfervaardig as taalvaardig. Ek het nooit geweet wat om te skryf in opstelle op skool nie en het maar altyd gedink my opstelle was nie te watwonders nie. My skrywery het begin deurdat ek daagliks ‘n A4 bladsy volgeskryf het in my bidboek, sodat ek kon fokus wanneer ek bid. Ek glo dat ek by die Here se voete leer skryf het. Dit het my geleer om my gedagtes te verwoord en neer te skryf. Dit was ook vir my ‘n groot uitdaging om werkstukke vir my kursusse te skryf, en keer op keer het die dosente vir my gekomplimenteer op ‘n goed taalkundig versorgde werkstuk. Stadigaan het ek begin glo dat my skryfwerk dalk nie so swak is nie. My blog het ek begin op ‘n stadium toe al my kinders uit die huis uit is en ek begin vereensaam het op die plaas. Die blog was vir my ‘n heerlike uitlaatklep en ek het die gesels geniet met intelligente mense van dwarsoor die wêreld. Dit was ook vir my interessant om soveel verskillende sienings raak te lees. Die blog het die pad oopgemaak vir soveel ander dinge. Wanneer ek ‘n lekker resep gemaak het, was dit vir my lekker om dit sommer op my blog ook te plaas en ongemerk het al hoe meer mense my resepte begin vertrou. Toe, in Julie 2014 het ek die groot stap geneem om die Bantingleefstyl te begin volg, en soos my gewoonte toe reeds was, het ek ook daaroor geskryf. Ek het agtergekom dat soveel mense hulp nodig het en nie weet waar en hoe om te begin Bant nie. Toe word my eerste Bantingboek uitgegee, baie groter en meer professioneel as wat ek beplan het en dit was ‘n reuse sukses. Ek het self alles rondom die uitgee daarvan self behartig, met oulike mense wat my gehelp het met die stilering van die kos vir die foto’s, die proeflees, die fotograaf en die bladuitlêer. Elkeen van hierdie mense het God op my pad gesit en dit op sigself is ‘n wonderstorie op sy eie. Boek een was ‘n groot sukses en boek twee was die natuurlike uitvloeisel daarvan. So dis my storie. Ek het geen idee waarheen hierdie pad my lei nie, God weet, en al wat ek moet doen is om daagliks my deel te doen en te kyk watter nuwe verrassings op my pad wag. 


Wat is jou gunsteling deel van jou leefstyl? Ek is tans op ‘n baie lekker plek in my lewe. Sedert Februarie 2017 pendel ons weekliks tussen die plaas op Riversdal en ons huis op Bredasdorp. Die gependel is maar baie uitputtend, maar dit voel of ek die lekker van beide kante het. Terwyl ek besig is om stadig maar seker gewoond te raak aan die dorpslewe, het ek nog die voorreg om ook die plaaslewe te geniet. Die afgelope twee jaar het ek heelwat van my administratiewe werk afgeskakel en kry ek al hoe meer die geleentheid om my eie ding te doen. Tog is ek steeds in ‘n mate betrokke in die boerdery en weet darem nog so effens wat daar gebeur. My hoop is om al hoe minder administrasiewerk te doen en al hoe meer sommer net my eie dinge. Ek wil al hoe meer uitreik na mense en sommer net gesels en bydra tot mense se lewenskwaliteit. Ek is omring met plattelanders, of dit nou by Bredasdorp is, of op die plaas. Plattelaners weet van mekaar, ons weet wat die ander een doen, ons gee om vir mekaar. Vir baie private mense kan dit soms soos inmenging voel, wat dit nie regtig is nie. Ons ken mekaar se stories, soms selfs voor ons dit self ken! Maar dis vir my lekker om te voel ek behoort. Dis vir my lekker as ek winkel toe ry en om elke hoek en draai waai iemand vir my met ‘n oop glimlag. Dis vir my lekker as ek by die winkel kom en een van die karwagte kom aangehardloop om vir my ‘n mandjie te gee, omdat hy my ken. Dis platteland. Ons lag natuurlik ook tog te lekker vir mekaar se blapse en nuus versprei baie vinnig hier.

Sy het op ‘n tyd weekliks ‘n resep gedeel met Radio Overberg

 
Hoe lyk ‘n tipiese dag in jou lewe? Ek het tans nie ‘n tipiese dag nie, dit hang regtig af of ek die week pendel, of nie. Sou ek die week by die huis bly, sal ek my besig hou met gewone huiswerkies, en om dinge op datum te kry, soos enige huisvrou. Pendel ek die week, gebruik ek die naweek om weer alles reg te kry vir die volgende week: Was wasgoed, kry die huis skoon, gaan kuier by die oumas, wat nog alles. Is ek op Riversdal, begin die dag met ‘n goeie stiltetyd, waarna ek kantoorwerk doen tot die aand. Vroegaand gaan ek gewoonlik stap met die honde. 


Enige interessante stories? Sommer net om die betrokkenheid by mekaar op ‘n plattelandse dorp te illustreer: Ek wil ‘n nuwe stoof koop en vra op Facebook watter stoof ek moet koop. Onder andere wil ek weet of die Smeg soveel beter is as die Defy, terwyl dit soveel meer kos. Dit raak ‘n lang gesprek en almal dra by en lewer kommentaar. Hulle preek dat ek asseblief plaaslik moet koop, ens. Op ‘n stadium stap ek in ‘n straat en ‘n tannie, wat nie op Facebook is nie, stop by my. Sy sê sy hoor ek wil ‘n stoof koop en sy wil net vir my sê watter stoof sy vir my aanbeveel en hoekom! Dit was vir my so oulik, so tipies plattelands. 

Madelé se gedagtes ter afsluiting: “Dit maak nie saak wat jy doen nie, doen dit na die beste van jou vermoë en geniet dit. Gee jou beste, vir jouself, maar ook vir jou man, vrou, kinders, familie, selfs al voel dit of jy al een is wat gee. Hou aan, een of ander tyd gaan jy die vrugte daarvan begin pluk, en dit kan ek uit eie ondervinding getuig. Spandeer tyd met God, lees jou Bybel en bid, dis die beste geskenk wat jy aan jouself kan gee.”


Jy kan Toortsie volg by die volgende skakels:

Facebook: Toortsie se Bantingresepteboeke

Facebook: Toortsie se Facebookblad

Pinterest: Toortsie

Instagram: Toortsiebooks



 


11 thoughts on “Country People – Ontmoet Madelé Burger, Bredasdorp, Overberg, Suid Afrika

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.