Die Langehovenpark – Boeremark – Bloemfontein

Wat is nou meer landelik as ‘n lekker boeremark. Ek het die mark al so paar keer besoek, veral met die doel om vars vrugte en groente te vind, maar ook sommer net vir die lekker ervaring van vroeg opstaan en ‘n boeremark.

Eerstens, as jy die mark wil besoek en regtig die volle ervaring wil kry, gaan vroeg! Ingang is gratis maar bring ‘n fooitjie vir die hardwerkende karwagte wat sal seker maak dat jou wa nog daar staan as jy terug is en ook ‘n ou ietsie vir die blinde man by die hoofingang. Die marktye is van 7uur tot 1 uur die middag, so as jy nou moet laatslaap…

Vroegoggend is die beste en varste produkte beskikbaar, dis nog nie so besig nie en jy kan rustig deur die stalletjies stap. Een stalletjie se yslike hoendereiers is meestal verkoop voor die mark nog begin het, mense ry letterlik soontoe net vir die eiers. Let wel, party stalletjie eienaars is wel laatslapers, so as jy al die stalletjies wil beleef, moet jy minstens tot 9 uur daar uithang. (Iets waarmee ek geen probleem het nie)

Wanneer jy aangery kom hang die rokies van vroeë braaivleis vure reeds oor die area en sommer met die intrapslag kan jy vir jouself ‘n vars roosterkoek of ‘n pannekoek saam met ‘n tuisgeroosterde koppie koffie vind. Wees net versigtig, en kyk bietjie rond, jy kan koffie vind teen ‘n plaas se prys en heerlikes teen minder astronomiese pryse. Maar wat is ‘n paar probeerslae nou, mens ondersteun steeds plaaslik, so jou geld word goed gebruik. En red gerus die aarde en bring jou eie koffie beker saam en vra om die koffie daarin te kry.

By die boeremark kan jy ‘n verskeidenheid van goed vind. Van ‘n houer vars hoender eiers, en partykeer kwartel eiers, tot groente, tuisgemaakte goedjies, speelgoed, oudhede, klere, roosboompies en selfs ‘n troeteldier of 2. (Onthou net jy mag nie jou eie troeteldiere saambring nie.)  Iets vir ‘n elke mens. En dan is daar natuurlik my heel gunsteling, die vars blomme. Loop daar uit met ‘n vars bossie blomme en almal glimlag vir jou, dit kan net nie anders nie, jy lyk so vrolik. Die blomme hou vir meer as ‘n week in my huis, veral die Gerberas en Proteas.

Nou om by my hoofrede uit te kom waarom ek die mark besoek, ek soek vars groente en vrugte sonder plastiek. Nee jy moet nie plastiek afhaal nie, ek wil hê dat dit nooit ‘n plastiek omhulsel gehad het nie. Die aarde word so besoedel deur ons soeke na gerief. Gerieflik, gebruik ons koppies, sakkies, polystyrene bakkies, plastiek strootjies en houers, eetgerei en papierborde een keer en smyt dit daarna weg. (“Weg” is nou natuurlik na ‘n vullishoop om in ewigheid daar verder te bestaan of nog erger, “weg” is uit die kar venter, in die straat, in ‘n stormwater drein oppad see toe, waar dit in groot plastiek eilande dryf en ons wildlewe en ons toekoms bedreig.) Ek het seker nie nodig om meer oor die onderwerp te sê nie. Jy kry die prentjie. So, om terug te kom by varsgoed. My heel eerste besoek was taamlik teleurstellend. Soveel stalletjies verkoop goed presies soos dit is op die winkelrakke. Verpak met hope en hope plastiek en gee dan ook vir jou ‘n plastiek sakkie om dit in te vervoer huistoe. Ek het egter stadig deur al die stalletjies begin stap en agtergekom dat met ‘n bietjie rondsnuffel jy ‘n hele oes kan kry van varsgoed wat nog nooit ‘n plastiek in sy lewe gesien het nie. Ek hoop, dat met die tyd saam, meer en meer mense hulle eie inkopie sakke of mandjies sal saamneem en meer en meer stalletjie eienaars sal gereg doen aan dit wat ‘n plaasmark so uniek maak. Ek hoop om gou weer daar uit te kom.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Advertisement

7 thoughts on “Die Langehovenpark – Boeremark – Bloemfontein

  1. Dalene en Lize ons wag vir julle met die volgende kuier vir n lekker rit op Hastig se Donkiewa. Soek vir Koffiekraal en julle sal ons daar verby sien ry. Julle kan ook sommer bietjie self die leisels vat en probeer.
    Donkiegroete.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.